Martjie
Dis warm en stil op die ou boereplaas onder die eike, waar oom Koot en tant’ Mieta hul middagslapie hou. Roelof, ’n jonkman uit die dorp, stap die werf op en raak self aan die sluimer in die skaduwee—tot Martjie hom van agter die luik met ’n straaltjie water wakker terg. So begin Celliers se eenvoudige skildering van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman, ’n algemeen-menslike verhaal wat teen die agtergrond van die plattelandse Afrikaanse omgewing afspeel, sonder soeke na avontuur of ingewikkeldheid.
Martjie is ’n verhaal-in-verse waarin liefde, die ritme van die seisoene en die rustige skoonheid van die boerelewe saamvloei. Celliers koos doelbewus ’n losse, sangerige vorm om sowel poësie as eenvoudige mededeling te dra, en stel die natuur—die eike, die dam, die singende besies—in diens van die hoofmotief. Die werk staan as ’n mylpaal in die jong Afrikaanse letterkunde: ’n bewuste bydrae tot die opbou van taal, kuns en nasionaliteit, en ’n viering van die alledaagse, eg-Afrikaanse lewe.
How it begins
Vir ’n skrywer, maar veral vir ’n Afrikaanse skrywer, in die tye wat ons belewe, is dit besonder aanmoedigend en verblydend as hy ondervind dat ’n nuwe druk van sy werk nodig is. Ek dank my landgenote vir die aanmoediging en ondersteuning, en hoop dat „Martjie” by toeneming sal bydra tot die doel wat ons beoog: opbou van taal, kuns, nasionaliteit. In hierdie twede uitgaaf het ek die spelreëls toegepas wat goedgekeur en vasgestel is by die jongste sitting van die „Zuid Afrikaanse Akadémie voor Taal, Letteren en Kunst”. Op ’n paar kleine wysiginge na, is die eintlike teks onveranderd gebly. Ter wille van maat en ritme, en alleen om die rede, het sommige woorde afwykende vorme gekry, b.v. „ower” in plaas van „oor”, „bowe” in plaas van „bo”, ens. Om dieselfde rede is die dubbele ontkenning hier en daar verwaarloos. Die woordjie „sig” het ek hier en daar nog behou. Ten slotte nog ’n enkel woordjie—van eie hand hierdie keer—oor die aard en vorm van my werkie: My bedoeling was ’n eenvoudige skildering te gee van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman in Afrikaanse omgewing, ’n algemeen-menselike tema op eie toneel opgevoer. Alle begeerte na avontuurlikheid of ingewikkeldheid in die verhaal was dus uitgesluit. Die inkleding, wat gebeurtenisse, natuurbeskrywing, ens. betref, moes net voldoende wees om, teen passende agtergrond, die hoofmotief duidelik te laat uitkom.
Text from Project Gutenberg, public domain.