BoltRead

Bang vir die lewe

by Henry Bordeaux

af · ~295 min at 250 WPM

Die verhaal speel af rondom die familie Kibert, ’n eenvoudige maar krasse geslag van staatmakers wat krag en karakter in hulself dra. Wanneer Marcel Kibert na drie jaar oorlog in Madagaskar terugkeer na sy weduwee-moeder, ontvou ’n verhaal van liefde, opoffering en stryd. Teenoor die Kiberts staan die ryk, bedorwe Delourens-wêreld—swakkelinge wat bang is vir die lewe en sy eise. Deur huwelik, afskeid, vertrek en dood word die ou moeder Kibert se moed en stille berusting telkens beproef, totdat sy as die hart van die hele verhaal staan.

Die boek se groot tema is die teëstelling tussen dié wat die lewe met sy stryd en strewe durf aanpak, en dié wat daarvoor terugdeins. Sonder om te preek, laat Bordeaux ’n sterk morele krag uit sy storie straal. Die onvergeetlike figuur van moeder Kibert herinner ons aan alle moeders wat min vir die lewe—en die dood—bang was.

Read this book

How it begins

Baie boeke van die buiteland, en veral romans, behandel toestande, persone en insigte wat vir die gewone Afrikaanse leser vreemd en dus onverstaanbaar en ongenietbaar is. Dit kan van hierdie boek nie gesê word nie: wat hier aan ons vertoon word, is algemeen-menslik—sulke persone en hartstogte en gevoelens en kontraste tref ons by ons net so aan. Sonder dat die outeur as sedemeester optree, gaan daar ’n sterk morele invloed van sy boek uit, deurdat hy ons op meesterlike wyse die teëstelling laat sien tussen swakkelinge—ryk en bedorwe sywurms wat bang is vir die lewe en stryd en strewe daarvan—en ’n famielie van staatmakers wat sout en krag in hulself het. Die sentrale figuur is ongetwyfeld die brawe ou moeder Kibert—vir haar vergeet ons nooit weer nie as ons die verhaal gelees het. En ons dink daarby aan die talryke Afrikaanse moeders en dogters wat agtien jaar gelede op so treffende wyse aan die wêreld getoon het hoe min hulle vir die lewe bang was—en vir die dood. Hulle rus daar op ons velde vandag, dog die dag sal kom dat Afrikaanse skrywers ook uit hul lewe stof sal haal vir roerende en opbouende verhale. Dog die gewone lewe lewer daartoe al stof genoeg op; hierdie skrywer—soos elke goeie skrywer—maak die gewone vir ons interessant en het geen kunsies, soos intrigue en sulke goed, nodig nie.

Text from Project Gutenberg, public domain.