Boesman-Stories, Deel 4. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard
Met Boesman-Stories, Deel IV bring G. R. Von Wielligh die laaste vyf-en-twintig vertellings (No. 76 tot No. 100) van sy versameling byeen — gemengde verhale, meesal van ’n avontuurlike aard. Die boek open met ’n onverwagte ontmoeting met leeus en neem die leser saam op jagtogte deur Swasieland en langs die Lebombo-berge, waar mens en roofdier mekaar op die vlaktes teëkom. Deur die Boesman se eie vertellings te laat hoor, stel die skrywer hom voor as ’n lewende wese, en wys hy watter rol hierdie voorhistoriese mens in die hedendaagse beskawing speel.
Die werk se kern is bewaring: Von Wielligh betreur dat ’n menseras uit die steentydperk onder ons leef terwyl die geleerde wêreld hulle verwaarloos. Hy stel die koue standbeeld van die geskiedenis teenoor die lewende stem van die volksvertelling. Hoewel die stories as kindervermaak geniet kan word, lê hul blywende waarde in die behoud van ’n taal, denkwyse en kultuur wat andersins vir altyd sou verdwyn.
How it begins
Met Boesman-Stories het ons eers die leser ’n kykie in die hart en gemoed van die Boesman laat werp. Hierdeur het ons kennis gemaak met sy manier van dink, wat sy begrip van lewe is, en ook in hoever hy hom in afgetrokke denkbeelde kan verdiep. Toe het ons nader na sy aandvuurtjie gestap, om na sy stories, die vrug van sy skeppingskrag, te luister. Daarna het ons getrag om hom voor te stel soos hy deur die bril van die beskawing gadegeslaan word. En nou in Deel IV bring ons hom op die toneel om te toon watter rol hy in die hedendaagse beskawing speel. Ons kry hier met die voorhistoriese mens te doen. Sou vandag in Europa ’n klompie van die ou geslag uit die steentydperk verskyn, let dan op watter ophef oor hulle sal gemaak word. Geleerdes van alle kante sal toestroom om kennis met die voorgeslag te maak. Hulle sal praatmasjiene meebring om die taal op plate te bewaar. Hulle sal hard probeer om die taal te leer, en hulle sal dié soort mense meer vrae stel as wat hul kan beantwoord. Wel, hier in Suid-Afrika het ons onder ons vandag nog ’n menseras uit die steenperiode, en min aandag word aan hulle deur die geleerde wêreld bestee. Ja, eendag sal die nageslag ons, die teenswoordige geslag, vir hierdie nalatigheid met reg grootliks blameer.
Text from Project Gutenberg, public domain.