Gedigte
Hierdie bundel versamel die vroeë gedigte van F. P. van den Heever, een van die stigtersfigure van die Afrikaanse digkuns. Die verse wissel sterk in toon en onderwerp: van die epiese drama van „Petrossa", waar ’n Griekse slavin haar eer met die dolk bo die buit van ’n barbaarse veroweraar kies, tot die innige „Bieblebom se berge", waarin ’n vader sy kind op ’n nagtrein troos ná die moeder se dood. Spookagtige verhale soos „Die Possie" en speelse, ironiese stukke soos „Wie in glashuise woon" wys die digter se wye register.
Deurgaans worstel Van den Heever met liefde en verraad, dood en herinnering, en die aard van die digkuns self—„doop jij jouw pen in ’n mensehart". Sy beeldryke, klankvolle taal en sy mengsel van klassieke verwysings met die Suid-Afrikaanse landskap maak hierdie bundel ’n belangrike vroeë baken in die ontwikkeling van ’n eie Afrikaanse poëtiese stem.
How it begins
(In 1837 is te Petrossa ’n skat ontdek, bestaande uit gouë bekers, met edelgesteente beset. Die bekers moet uit verskillende lande afkomstig wees, blijkens die opskrifte. Die skat dateer uit die Europese volksverhuising, en bestaat uit die roof van Europa, die tribuut, wat een van ons Germaanse voorvadere die volkere afgedwing het.) Daar lê die skatte nou, hoop op hoop, Daarvoor, was lande in bloed gedoop, Geroof van die Sklaaf en swart Ethioop, Hier is dit alles vergaar. Die kampvuur vlam op, glim oor vate van goud En van silwer; karbonkels blits, ster aan ster, En die vuurlig weerskijn in die agtergrond, ver, Uit oë van gediertes wat staar uit die woud. Maar ek huiwer nog meer van die kil, kouë vuur, Wat die Griekse slavin deur haar kijkers laat gluur, Als sij sien, sij die kind van Athenes kultuur Op die blonde barbaar. En sij sak in die dekens van purper en blouw, Wat verward in die buit lê; die vuurlig bestraal Arme wat blink soos ivoor; maar van staal Is die oë, net so ferm, sonder vrees, sonder rouw. Die blonde veroweraar smeek en hij vlei, Ontmoet net oë wat soos ijsskerwe snij: Of hij bid, of hij dreig, moet die neerlaag maar lij, Gaat vertwijfeld van daar.
Text from Project Gutenberg, public domain.